Free Clive

Thursday, October 7, 2010

Dit is nou genoeg

Die minister van korrektiewe dienste, die nasionale paroolraad, die SAKP en sy napraters, asook die Demokratiese Alliansie wat almal al in die verlede verskillende vlakke van wraaksugtigheid teenoor mnr Clive Derby-Lewis getoon het, moet maar kennis neem van die groeiende gevoel van teenstand onder Afrikaners.

Mnr Clive Derby-Lewis se mense wil hom by die huis hê. Selfs mense wat tevore huiwerig was om hulle steun toe te sê aan iemand wat bereid was om ‘n pad van geweld te loop, word nou deel van die stroom wat sê: dit is nou genoeg. Laat hom vry!

Die feit dat Radio Pretoria in ‘n program van net 45 minute, 73 boodskappe van ondersteuning deur inbellers kon uitsaai, sê nogal iets. ‘n Mens sal nooit weet hoeveel mense nie kon deurkom nie en hoeveel nog sou skakel as die tyd langer was nie, maar dit is genoeg om die algemene gevoel te bepaal.

Dit word ondersteun deur die suksesvolle straatbraai oorkant die tronk wat binne ‘n kwessie van ‘n paar uur gereël is.

Die vrylating van mnr Derby-Lewis is uiteindelik besig om ‘n volksaak te raak. En die volk se boodskap aan die besluitnemers wat glo teen die einde van die maand oor sy parool-aansoek gaan besin, is duidelik: laat hom vry! Hou op om die regsproses te verdraai om ‘n man van 74 wat in werklikheid nie eers fisies betrokke was by enige daad van geweld nie, agter tralies te hou. Hou op met julle belaglike wreedaardigheid om iemand wat ‘n kans staan om sy been te verloor aan sy hospitaalbed vas te ketting. Hou op om politieke speletjies te speel met ‘n man se lewe.

Selfs mnr Chris Hani se dogter het al in die openbaar gesê, dit is genoeg. Niks wat verder aan Clive Derby-Lewis of Janus Walusz gedoen word, gaan haar pa terugbring nie.

Die feit dat haar ma en ander lede van die SAKP en die ekstremistiese Jeugliga daarop aandring dat hulle nie vrygelaat word nie, het waarskynlik veel meer met hulle eie politieke aspirasies as enige iets anders te doen.

Dit is miskien tyd dat hulle ook die gevoel van die bevolking begin lees. Mnr Derby-Lewis se swart mede-gevangenes ondersteun hom deur die bank. Die algemene publiek is baie meer bekommerd oor dienslewering en werk en misdaad, as oor ‘n politieke gevangene.

Net so moet die Demokratiese Alliansie ook maar begin besef dat sy haatdraende houding oor mnr Clive Derby-Lewis hom nog verder van die Afrikaner gaan vervreem. Of is daar nou genoeg swartes wat vir die DA stem, dat die Afrikaner se stem nie meer tel nie?

Selfs koerante uit die Naspers-stal het al in hoofartikels en nuusberigte die saak simpatiek benader. Dit is waarskynlik ook ‘n goeie aanduiding van die openbare mening.

In die dae wat kom gaan die Bevry Derby-Lewis Komitee nog verskeie aksies hê rondom die eis vir vrylating. As daar ooit ‘n tyd was om aan openbare optrede deel te neem, dan is dit nou. Want genoeg is genoeg.

http://www.radiopretoria.co.za/Nuuskommentaar.php

No comments:

Post a Comment